| ENG South Africa SOT Afrika Borwa SPA Sudáfrica |
inhoud
Inleiding | Vertaling in die pre-Nederland-tydperk (voor 1652) | Vertaling tydens die Nederlandse handelstydperk (1652-1795, 1803-1806) | Vertaling tydens die Britse koloniale tydperk (1795-1803, 1806-1910) | Afname in Britse oorheersing en die ontluiking van Afrikaner-oorheersing (1910-1961) | Vertaling tydens die Afrikaner-tydperk (1961-1994) | Vertaling tydens die Demokratiese tydperk (1994-) | Navorsingsmoontlikhede
Ten einde die uiteenlopende verskeidenheid in die vertaalgeskiedenis van Suid-Afrika te verstaan, moet 'n mens die taal- en godsdienstapisserie sowel as die oorgangstydperke in die Suid-Afrikaanse geskiedenis in ag neem.
Volgens die Ethnologue beslaan die totale bevolking van Suid-Afrika 60 143 000 mense met 'n geletterdheidskoers van 87% (UNESCO 2017). Suid-Afrika het sedert 19 Julie 2023 twaalf amptelike tale. Die elf amptelike tale (van 1994 tot 18 Julie 2023) het die volgende hoeveelhede eerste- (T1) en tweedetaalsprekers (T2) in Suid-Afrika: isiZulu 27 300 00, Engels 19 640 000, isiXhosa 19 150 00, Afrikaans 17 160 000, Sesotho sa Leboa 13 720 000, Setswana 11 770 000, Sesotho 11 750 000, Xitsonga 5 680 000, Siswati 3 700 000, Tshivenda 2 910 000 en isiNdebele 2 490 000. Suid-Afrikaanse Gebaretaal (met 500 000 sprekers) is erken as taal wat bevorder moet word en het op 19 Julie 2023 die twaalfde amptelike taal word. Daar word 36 gevestigde tale in Suid-Afrika gelys, waarvan 31 lewend is en vyf uitgesterf het. Van die lewende tale is 20 inheems en 11 uitheems. Aangesien geen taal oorheers nie, speel vertaling 'n deurslaggewende rol om kommunikasie in die samelewing te fasiliteer.
![]() |
![]() |
| Kaarte van Suid-Afrika [Source] |
Wat godsdienstige affiliasie betref, bied die Algemene Huishoudingsopname van 2015 die volgende data: 'n Geraamde 86% van die bevolking is aan die Christendom verbonde, 5,4% onderskryf tradisionele godsdienste, Islam beslaan 1,9% van die bevolking, Hindoes 0,9%, die Joodse godsdiens 0,2% en ander godsdienste 0,4%, terwyl 5,2% van die bevolking nie aan enige godsdiens verbind is nie. Aangesien die meerderheid van die bevolking godsdiens beoefen, is religieuse vertaling dominant.
Die Suid-Afrikaanse geskiedenis word in vier hooftydperke verdeel (Naudé 2005a: 168-169): Nederlands (1652-1795, 1803-1806), Brits (1795-1803, 1806-1961), Afrikaner (1961-1990) en sosiaal demokraties (sedert 1994). Elke tydperk vertoon 'n unieke ideologie wat die vertaalpraktyk in daardie tydperk beïnvloed het.
Vertaling in die pre-Nederland-tydperk (voor 1652)
Die vroegste wisselwerking tussen Europeërs en Afrikane in Suider-Afrika het in die 15de eeu plaasgevind, aangevuur deur die Arabies-Joodse Goue Era waartydens Joodse intellektuele die wetenskaplike geskrifte van die Grieke, Arabiere en Jode in Latyn en ander Europese tale vertaal het. Hulle het instrumente en kaarte aan die Portugese ontdekkingsreisiger, Vasco da Gama, verskaf en inligting oor seevaart oorgedra, naamlik dat 'n nuwe roete na Indië ontdek kan word deur langs die weskus van Afrika af te seil. Nadat hy om die Kaap van Goeie Hoop (die suidwestelike deel van hedendaagse Suid-Afrika, rondom Kaapstad) geseil het, het hy Indië op 20 Mei 1498 bereik. Een van die seevaarders, Fernau Martins, wat sowel Hebreeus as Arabies kon praat, is om sy tolkvaardighede waardeer. Hoewel Martins gesukkel het om die klikklanke van die Khoi-taal te tolk, het hy in Mosambiek 'n prominente rol gespeel waar hy in Arabies met die Moslem-handelaars kon gesels (Herrman 1935: 21; Naudé 220: 16). Die Portugese was nie op Suid-Afrika gefokus nie, maar op die handel met Indië, maar hulle het tog sedert 1505 handel- (en sending-) sentrums aan die Ooskus van Afrika gevestig, in die hedendaagse Mosambiek (naby die gebied wat deur die misterieuse Monomotapa regeer is).
Engelse skepe het sedert 1580 om die Kaap van Goeie Hoop gevaar. In 1613 het die bemanning van 'n Engelse skip twee Khoi-mans gevange geneem. Een van hulle is tydens die seereis oorlede. Die tweede een, Koree, het 'n tolk tussen Engels en Khoi geword, maar hy het in 1626 verdwyn. Die volgende tolk was 'n Khoi-man, genaamd Autshumato, van die Goringhaicona-stam, wat 'n groep gesete, nie-pastorale jagter-versamelaars was wat in die omgewing van Tafelbaai van skulpvis geleef het (Wells 2014: 37). Autshumato het ook as posagent vir die verbygaande skepe van 'n aantal lande diens gedoen.
Vertaling tydens die Nederlandse handelstydperk (1652-1795, 1803-1806)
Die Hollands Oos-Indiese Kompanjie het in 1652 'n nuwe gemeenskap aan die Kaap van Goeie Hoop gevestig en nie net die gereformeerde geloof en kerk as die enigste godsdiens afgedwing nie, maar ook Nederlandse enkeltaligheid. Nederlands was die enigste taal wat in elke kerk en skool gebruik mog word (Naudé 2020: 17). Die Nederlandse Statenvertaling, wat in 1637 uitgegee is, was die enigste Bybel.
Vertalings het mondelings plaasgevind in die vorm van tolking tussen die Nederlandse koloniste en die inheemse mense. Khoi-tolke soos Autshumato (deur die Nederlanders Herrie genoem) het tot en met sy inkerkering op Robbeneiland 'n belangrike rol gespeel om kommunikasie tussen die Nederlanders en die Khoi te bewerkstellig. In hierdie tyd, die sewentiende eeu, het ook ander lede van die Goringhaiqua-stam, wat veeboere was, hierdie rol gespeel, naamlik Autshumato se broerskind, Krotoa (deur die Nederlanders Eva genoem) en Omani (deur die Nederlanders Doman genoem). Dit het tot gevolg gehad dat die Nederlandse koloniste nooit die Khoi-tale aangeleer het nie (Wells 2014: 37-45). Wat meer is, is dat die Khoi-tale deur Nederlands vervang is aangesien die Khoi in staat was om in pidgin-Nederlands te kommunikeer. Die gevolg was dat daar teen die einde van die agtiende eeu nie meer 'n behoefte aan tolking tussen die Khoi-tale en Nederlands was nie, wat tot die uiteindelike uitsterwing van die Khoi-tale gelei het (Both & Beukes 2019: 246-247).
Aangesien baie van die Goringhaicona geproletariseer is as arbeiders wat los takies verrig het en lewende hawe as kosvoorraad vir die handelskepe aan die Nederlanders voorsien het, het die Kompanjie die beleid gehad om nie van die inheemse bevolking slawe te maak nie, maar slawe in te voer (Wells 214: 38). Sedert 1658 is slawe uit Wes-Afrika, Mosambiek, Madagaskar, Indië, Ceylon en Indonesië gebring. Nederlands is as die enigste onderrigtaal vir slawekinders en as werkstaal tussen die Nederlandse slawe-eienaars en hulle slawe gebruik. Die slawe het in hulle omgang met die Khoi pidgin-Nederlands aangeleer en hulle eie wysigings daaraan aangebring. Dit het gelei tot die stabilisering van pidgin-Nederlands tydens die laaste dekades van die sewentiende eeu. Dit is uit hierdie taalagtergrond dat Afrikaans later as taal ontspring het. Die aankoms van Moslem-slawe, vry Moslems en bannelinge aan die Kaap van Goeie Hoop het Islam na Suid-Afrika gebring (Mahida 1992: 1-7). Die Moslem-variëteit van Afrikaans wat mettertyd ontwikkel het, is uniek (Davids 2011: 293-299).
![]() |
![]() |
| Krotoa (1643-1674), een van die eerste Suid-Afrikaanse tolke waarvan ons weet [Source] |
Simond, Les Veillés Afriquaines [Source] |
Pierre Simond, sieleherder van die Franse Hugenote wat tussen 1688 en 1700 in die Kaap aangekom het, het die Psalms van Dawid rondom 1690 in rymlose verse in Frans vertaal met die titel Les Veillés Afriquaines (Afrika-waakure). Die Sinode van die Gereformeerde Kerk in Nederland, wat die godsdiensbeoefening aan die Kaap beheer het, het die vertaling verwerp en dit is privaat deur Simond self uitgegee.
Wilhelm de Grevenbroek, 'n Kaapse intellektueel wat ook 'n Xhosa-woordelys saamgestel het, het geskrewe vertalings in die Khoi-tale van die Onse Vader, die Tien Gebooie en die Belydenis van Nicea na Gottfried Wilhelm Leibniz gestuur. Leibniz het dit in 1717 in die vorm van interliniêre vertalings tussen Nederlands en Khoi uitgegee vir die doeleindes van vergelykende filologie eerder as godsdiens (Botha & Beukes 2019: 247).
Ter opsomming is die beleid van Nederlandse enkeltaligheid die hoofrede vir die amperse afwesigheid van vertaalaktiwiteit ten spyte daarvan dat 'n veelheid tale (Nederlands, Frans en Khoi) in een geografiese gebied gepraat is – 'n situasie wat gewoonlik tot vertaalaktiwiteit aanleiding gee.
Vertaling tydens die Britse koloniale tydperk (1795-1803, 1806-1910)
Die eerste Britse besetting (1795-1803) het die eerste Nederlandse volksplanting onder die Hollands-Oos-Indiese Kompanjie in 1795 beëindig. Die nuwe Bataafse Republiek in Nederland het die Kaap tussen 1803 en 1806 volgens die bepalings van die Verdrag van Amiens (1802) regeer. In 1804 het Kommissaris-generaal De Mist godsdiensverdraagsaamheid aan die Kaap deur middel van 'n kerklike ordonnansie uitgebrei, wat godsdiensgelykheid vir mense van alle gelowe beteken het. Hierdie nuwe orde is deur die Britte, wat die Kaap in 1806 geannekseer het, in stand gehou. Die gevolg was dat nie net aanhangers van nie-Gereformeerde variante van die Protestantisme soos die Morawiërs en Lutherane nie, maar ook aanhangers van Islam en die Joodse geloof godsdiensvryheid geniet het (Herrman 1935: 90-91). Die Britte het egter Engels afgedwing om die oorheersing van Nederlands aan die Kaap te verminder en hulle tradisies op Afrikane af te dwing. Verengelsing het die gebruik van Nederlands in kerke en skole bedreig. Benewens verengelsing het die afskaffing van slawehandel en die Grensoorloë teen die Xhosas (1835-1853) wat deur Brittanje gelei is rondom 1838 tot 'n grootskaalse uittog van Nederlandse boere na die binneland gelei. Dit het gelei tot die stigting van twee Nederlands-sprekende Boererepublieke in die binneland (in 1852) en twee Engelssprekende Britse kolonies aan die kus (in 1854).
'n Nuwe faktor tydens die Britse koloniale tydperk was die sendingwerk deur Protestante Evangelie-gesindes. Godsdienstige vertaling in die inheemse Suid-Afrikaanse tale, onder andere Kora, Nama, Sehlapi, Serolong, Sesotho, Setswana, Siswati, isiXhosa en isiZulu is vir evangeliseringsdoeleindes gebruik. Die doel was om heilige geskrifte (gesange, kategismusse, geloofsbelydenisse, die Tien Gebooie, traktate met die evangelies, preke en John Bunyan se Pilgrim’s Progress) vir hulle gebruikers toeganklik te maak. Dit het egter ook 'n rol in taalontwikkeling, die vorming van kulturele identiteite en nasionalisering gespeel (Landau 2010: 74-107; Hofmeyr 2004). 'n Nama-vertaler, Zara Shmelen, was onder andere in 1831 vir die eerste vertaling van die evangelies in Nama verantwoordelik. 'n Suid-Afrikaanse tak van die Britse en Buitelandse Bybelgenootskap is in 1820 in Kaapstad gestig. Dit was nie op daardie stadium direk by vertaling betrokke nie, maar het finansiële ondersteuning en drukkersmateriaal verskaf om sendinggenootskappe in staat te stel om vertalings deur hulle sendelinge te publiseer.
Baie volledige Bybelvertalings in die inheemse Suid-Afrikaanse tale het gevolg. Setswana was die eerste Suid-Afrikaanse taal wat 'n volledige Bybel ontvang het, in 1857. Dit is deur die pionier-Bybelvertaler, Robert Moffat, vertaal en deur die Londense Sendinggenootskap uitgegee (Smit 1970: 195-200).
![]() |
| Robert Moffat, soos in 1843 deur George Baxter geskilder [Source] |
Die eerste volledige isiXhosa-Bybel is in 1859 deur die Wesleyaanse Sendinggenootskap uitgegee en is hoofsaaklik deur John Appleyard en Albert Kroft vertaal (Smit 1970: 25). Appleyard het die vertaling hersien en dit in 1864 uitgegee, en dit staan as die Appleyard-weergawe bekend. Hierdie vertaling is nie goed ontvang nie en is deur 'n deel van die Xhosas self gekritiseer, sowel as deur ds. Tiyo Soga (1831-1871) wat The Pilgrim’s Progress in isiXhosa vertaal het (Davis 2018: 306, 311). Hy het hom tussen 1858 en 1865 vir die skepping van 'n vertaalraad beywer, en dit is in 1868 gestig om met 'n hersiening van die Appleyard-Bybel te begin (Smit 1970: 207). Soga was by die vertaling van die boek Handelinge betrokke toe hy in 1871 oorlede is (Davis 2018: 311) Die hersiene Nuwe Testament is in 1875 uitgegee, maar veral die Mfengo-groep van die Xhosas het geweier om die hersiene vertaling te aanvaar en voorkeur aan Appleyard se vertaling gegee (Smit 1970: 207). Die hersiening van die volledige isiXhosa-Bybel is uiteindelik in 1889 uitgegee (Smit 1970: 208). Die derde taal waarin die Bybel volledig vertaal is, was Sesotho. Basoetoeland, wat deesdae Lesotho en die tuiste van die Sesotho-sprekende bevolking is, is in 1833/1834 vir Christelike sendingwerk oopgestel (Casalis 1861; Ellenberger 1912; Makutoane & Naudé 2009: 81). Hulle leier, Moshoeshoe, het ook erken dat dit belangrik is om vaardighede van die boere, setlaars, jagters en avonturiers, wat toenemend sy grense vanuit die suide oorgesteek het, te bekom. Hy het dus die sendelinge van die Paryse Evangeliese Sendinggenootskap (Société des Missions Évangéliques) as 'n bron van inligting oor die res van die wêreld verwelkom toe hulle in 1833 by Thaba Bosiu opgedaag het (Makutoane & Naudé 2009: 81; kyk ook Harries 2007). Vir die verbouing van landbouprodukte op plase en vir handel is 'n soort pidgin-taal ontwikkel om kommunikasie tussen die Nederlands/Afrikaanssprekende boere en die Sesotho-sprekers te fasiliteer. Hierdie terminologie is deur die vertalers van die eerste Sesotho-Bybelvertaling gebruik (Makutoane & Naudé 2009: 88-91). Teen 1878 is die volledige Bybel deur die sendelinge van die Paryse Evangeliese Sendinggenootskap vertaal. Dit is in 1881 in een volume uitgegee en word vandag nog gebruik. Die vierde volledige vertaling in 'n inheemse Suid-Afrikaanse taal was die isiZulu-Bybel wat in 1883 deur die Amerikaanse isiZulu-sending/Amerikaanse Bybelgenootskap uitgegee is (Masubelele 2009: 63-78).
Die vroegste pogings om die Bybel in Afrikaans te vertaal, het met die pogings van die Bybelvertaalbeweging (1872-1911) begin. In 1873 het C.P. Hoogenhout Matteus 28 in Afrikaans vertaal, maar De Kerkbode, die amptelike kerklike tydskrif van die Nederduitse Gereformeerde Kerk, het geweier om dit te publiseer. Hy het egter in dieselfde jaar sy verafrikaanste weergawe van die welbekende Josef-verhaal uit die Bybel uitgegee. In 1878 het Hoogenhout en 'n paar vriende die Evangelie van Markus uit die Nederlandse Statenvertaling vertaal. Dit was die eerste boek van die Bybel wat in Afrikaans vertaal is, maar dit is nooit uitgegee nie omdat die Britse en Buitelandse Bybelgenootskap die Afrikaners se versoek om 'n Bybel verwerp het. In 1889 is 'n boek met drie voorbeelde van die Bybel in Afrikaans deur S.J. du Toit uitgegee.
![]() |
![]() |
| S.J. du Toit, Di Bybel in Afrikaans (1889) [Source] | Lucy Lloyd se notaboek: Storie: Leeu en kameelperd; Medewerkers ||kabbo (Jantje) [Source] |
Du Toit en sy medewerkers het toe agt Bybelboeke vertaal en dit privaat uitgegee. Du Toit se dood in 1911 het die einde van die projek beteken. Hierdie poging het misluk omdat die hegemoniese Nederlandse taal en die Statenvertaling bo die gedomineerde Afrikaanse “dialek” verkies is.
Sendingvertaling is sleg in een rigting gedoen, maar hierdie tendens is omgekeer toe dele van Afrika se orale letterkunde opgeteken en in Europese tale vertaal is aangesien die hegemoniese kultuur dit as esoteries en misterieus beskou het. Lucy Lloyd en Dorothea Bleek, wat oor die tale van Eerste Nasies navorsing gedoen het, het 'n belangrike rol gespeel om volksverhale, geskiedenis en inheemse kennis uit die tale /Xam en !Kung in Engels te vertaal (Botha & Beukes 2019: 249-250).
Die Franse vertalers van die Sesotho-Bybel het in hierdie verband uitgeblink. In 1842 het Thomas Arbousset 'n Sesotho-klaaglied en die lirieke van 'n Sesotho-gebed om reën in Frans en Engels vertaal, terwyl Eugene Casalis Franse vertalings van gekose Sesotho-letterkunde bestaande uit oorwinningsliedere, jagliedere, spreuke, raaisels, verhale of legendes en fabels daargestel het. Biskop John Colenso van Natal het in 1860 drie isiZulu-weergawes uitgegee van sy besoek in 1859 aan Umpande, die koning van die Zoeloes, met verduidelikende notas, 'n letterlike vertaling en 'n woordelys met al die isiZulu-woorde wat gebruik is.
Die verkryging van godsdiensvryheid aan die Kaap van Goeie Hoop in 1804 het ook Moslems se godsdiensbeoefening beïnvloed. Na die vrylating van Tuān Gūrūu, ook bekend as Imān Abdullāh, vanaf Robbeneiland in 1793 het hy van die Britte toestemming verkry om 'n godsdiensskool te stig waar die lees en skryf van Arabies onderrig is en waar die onderrig van geletterdheid in Arabies-Afrikaans (Afrikaans wat in Arabiese skrif geskryf is) sy ontstaan het (Mahida 1992: 9-10; Davids 2011: 64-75). Arabies is nie as taal onderrig nie, hoewel die simbole van die Arabiese skrif in Maleis onderrig is. Afrikaans in Arabiese skrif is wyd gebruik (Davids 2011: 18-19, 25). Vertalings van Arabies na Afrikaans het gedien om godsdienskennis van die Arabiese sentra van Islam na Suid-Afrikaanse Islam-gemeenskappe in te voer. Die belangrikste hiervan was Abu Bakr Effendi se Uiteensetting van die godsdiens (wat in 1869 uitgegee is hoewel dit 12 jaar voor 1869 in manuskripvorm die rondte gedoen het) (Davids 2011: 18-19, 25).
![]() |
![]() |
| Abu Bakr Effendi’s Bayân al-Dîn ['Uiteensetting van die godsdiens'] [Source] | Cachet, Tiyo Soga (1888) [Source] |
Abu Bakr Effendi is in 1862 deur die Sultan van Turkye van Koerdistan na die Kaap gestuur om die Moslem-gemeenskap as godsdienstige onderwyser te bedien. Hy het verskeie boeke met dieselfde uitleg geskryf: 'n Arabiese teks, gevolg deur 'n Afrikaanse vertaling en uiteensetting wat in Arabiese skrif geskryf is.
Die tydperk tussen 1815 en 1915 verteenwoordig die hoogbloei van die Arabies-Afrikaanse skryftradisie; die laaste boek in hierdie styl is in 1957 uitgegee (Davids 2011: 89-206).
Slegs 'n handjievol Jode van Engelse, Nederlandse en Duitse afkoms het gebruik gemaak van die geleentheid tot godsdienstige verdraagsaamheid wat De Mist in 1904 daargestel het (Herrman 1935: 90-91). Joseph Suasso de Lima, wat voor 1820 in die Kaap aangekom het, was onder andere 'n geswore tolk (Hebreeus, Grieks, Latyn, Arabies, Maleis, Sjinees, Malabar, Frans, Spaans en Nederlands), vertaler, skrywer en uitgewer (Herrman 1935: 94-95). Hy het in 1837 die drama The Wandering Jew uit Frans in Nederlands vertaal (Herrman 1935: 95). Herman (1935:199-202) bespreek ook die groot invloed wat Jode wat hulle geloof vir die Christelike geloof versaak het op hulle aangenome land gehad het. Frans Lion Cachet, wat in Amsterdam uit Nederlands-Joodse ouers gebore is, het byvoorbeeld in 1858 as 'n sendeling onder die Moslems in die Kaap aangekom. In 1888 het hy sy Nederlandse vertaling uitgegee van Tiyou Soga, die isiXhosa-Bybelvertaler, se biografie wat deur John Chalmers in Engels geskryf is.
Daar is getuienis dat Nederlandse, Duitse en Engelse volksverhale in die vorm van liedere, verhale, gedigte, dramas, spreekwoorde en raaisels van die 1870’s af in Afrikaans vertaal is. Die terme verafrikaans, omgesit en verwerk is gebruik om die vertaalaktiwiteit te beskryf. Vir die meeste van hierdie vertalings na Afrikaans is die spesifieke vertalers onbekend. Voorbeelde is die lied Sarie Marais, wat met die Amerikaanse lied Ellie Rhee verband hou en waarvan die vertaler onbekend is, en die versameling gedigte Fijftig uitgesogte Afrikaanse gedigte, wat aanvanklik in 1888 deur F.W. Reitz uitgegee is (en in die vyfde uitgawe in 1916 tot 62 gedigte uitgebrei is). Reitz dui in hierdie bundel aan dat die meeste van die skrywers of vertalers van die gedigte onbekend is. F.W. Reitz het van die gedigte deur Robert Burns self vertaal, by voorbeeld Tam O’Shanter’s Ride wat as Klaas Gezwint en syn paert en Duncan Gray wat as Daantjie Gouws vertaal is. Sy pa het The Cotter’s Saturday Night as Saterdagaant in 'n boerewoning vertaal. Ander Afrikaanse vertalers van volksverhale waarvan ons weet, sluit in Willie H Maskew (1861-1903), Melt Brink (1842-1925) en Willie Versfeld (1870-1939).
As pseudovertaling handel die eerste Afrikaanse roman deur S.J. du Toit, Di koningin fan Skeba, oor die fiktiewe vertaling van 'n sogenaamde perkamentrol in Klassieke Hebreeus wat na bewering deur Elihoref, Salomo se skrywer en gemaal van die koningin van Skeba, geskryf is. Dit handel ook oor die fiktiewe vertaling van die drie sogenaamde perkamentrolle wat onder Berg Afoer, in die destydse Rhodesië, ontdek is. Die roman het 'n belangrike rol gespeel om Afrikaans van 'n gebruikstaal in 'n kultuurtaal te omskep deur te bewys dat dit moontlik is om in Afrikaans te skryf oor 'n onderwerp wat ruimtelik en chronologies ver van die algemene gebruikstaal verwyder is.
Afname in Britse oorheersing en die ontluiking van Afrikaner-oorheersing (1910-1961)
Die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) wat ter wille van die Britse belegging in die goudmyne teen die Afrikaners gevoer is, was 'n keerpunt in die Suid-Afrikaanse geskiedenis. Hierna het die Britse oorheersing geleidelik verminder en het die Afrikaner-oorheersing van die Suid-Afrikaanse geskiedenis in 1948 tot die uiteindelike institusionalisering van 'n politieke bestel van wit oorheersing of apartheid gelei. Met die stigting van die Unie van Suid-Afrika in 1910 het die Afrikaners spoedig hulle eie vorm van nasionalisme begin ontwikkel, wat die weg gebaan het vir die tweede poging om 'n Afrikaanse Bybelvertaling daar te stel. Dit het gespruit uit die inisiatief van die kerke (1916-1923) as deel van die Afrikaanse taalbeweging (1914-1925) (Smit 1970: 228).
Die eerste invloed vanuit die beplanning vir die eerste Afrikaanse Bybelvertaling was op die vertaalteorie, in die vorm van 'n poging om lyste reëls vir vertalers daar te stel wat in wese op filologiese vergelykings tussen tekste gegrond was. F.W. Grosheide (1916) het 'n boek oor Bybelvertaling, wat Suid-Afrikaanse vertalers beïnvloed het, in Nederland uitgegee. Die boek was in twee dele verdeel: teorie en praktyk (kyk na Naudé 2020: 10 voetnota 19). J.D. du Toit (in die omgang as Totius bekend) het hierdie boek gelees en dit in 1916 in 'n populêre kerklike publikasie, Het Kerkblad, opgesom. Hy het toe die volgende reëls vir die Afrikaanse Bybelvertalers neergelê: i) Die vertalers moet in die Bybeltale opgelei wees en in staat wees om Afrikaans te hanteer. ii) Daar moenie te veel vertalers wees nie, en hulle moet mekaar se werk nagaan om eenheid te bewerkstellig. iii) Die vertalers moet van al drie Nederlandse kerke in Suid-Afrika wees. iv) 'n Groot hoeveelheid lesers moet die Afrikaans nagaan. v) Die vertalers moet die lesers se opmerkings by die vertaling insluit. vi) Die reëls van die metode moet tot taal- en stylkwessies beperk word en daar moet ooreenstemming daaroor wees.
As gevolg van die invloed van Nederlands, deur die Statenvertaling, op die Afrikaanse vertaling op 'n tydstip toe die Afrikaanse taal vir Afrikaner-identiteit belangrik was, het die vertaling van die Evangelies en die Psalms in Afrikaans (1922) misluk.
Afrikaans het in 1925 naas Engels en Nederlands 'n amptelike taal van Suid-Afrika geword (Wet 8 van 1925). (Nederlands het sy status as amptelike taal naas Engels in 1882 herwin en is later deur Wet 110 van 1983 verwyder.) Die gevolg was dat vertaalburo’s op die been gebring is om grootskaalse vertaal-aktiwiteite in die regeringsadministrasie, wat vantevore deur Engels oorheers is, te hanteer.
Die eerste volledige vertaling van die Bybel in Afrikaans, 'n woord-vir-woord of letterlike vertaling, is in 1933 uitgegee as die sewende Bybel wat in Suid-Afrika vertaal is (Naudé 2011). Die gebruik van dieselfde Hebreeuse en Griekse brontekste wat vir die Statenvertaling gebruik is, het gesag aan hierdie vertaling verleen, met die gevolg dat dit die Statenvertaling in die Afrikaanse gemeenskap vervang het. Die eerste volledige Afrikaanse vertaling van 1933 is tydens die tydperk van Afrikaner-nasionalisme in Suid-Afrika uitgegee en is gebruik om die ineenvloeiing van die Afrikaner se eie nasionale identiteit met dié van die Ou-Testamentiese Israel te regverdig (Naudé 2005a: 172-175).
Barend Gemser het met die oog op die hersiening van die 1933-Bybelvertaling reëls vir vertaling neergelê. Hy het dit opgesom uit die reëls wat Martin Luther (1483-1546), Johan Albrecht Bengel (1687-1752) en Franz Rosenzweig (1886-1929) in hulle geskrifte oor die daarstel van Bybelvertalings verskaf het (Naudé 2020: 10 voetnota 17). In 'n lesing vir Ons Taalkring aan die Universiteit van Pretoria op 5 Mei 1945 het Gemser 'n argument ten gunste van ‘vertaalbeginsels’ gevoer, wat met agt uit die nege van Bengel se reëls ooreengestem het, naamlik dat die vertaling die bronteks in terme van woordorde, die behoud van vreemde uitdrukkings, toon en styl moet weergee terwyl dit die natuurlike taal volg (nie te gemeensaam of te gestreng nie) (Naudé 2020: 10 voetnota 18).
Soos in die negentiende eeu het Bybelvertaling in die twintigste eeu voortgegaan met die ideologiese rol om die inheemse Suid-Afrikaanse tale te ontwikkel en onderskeie kulturele Afrika-identiteite te konstrueer. Die rol wat die eerste Xitsonga-Bybelvertaling (1929) in die bemagtiging en legitimering van kolonialisme binne die Xitsonga-gemeenskap gespeel het, is deur Maluleke (2017) ondersoek. Die vertaling het ruimskoots van leenwoorde uit naburige Afrika-tale, veral Sesotho, gebruik gemaak sowel as uit die koloniale tale wat in Suid-Afrika gepraat is (Engels en Afrikaans), maar nie uit Frans nie (die taal van die Switserse sendelinge onder die Tsongas). Die vertaling het op hierdie manier die omvang van die woordeskat in Xitsonga vergroot deur die omvang van die items wat in die taal beskryf kan word, uit te brei. Sommige inheemse woorde wat na tradisionele godsdienspraktyke en praktisyns verwys, is vermy, wat dus die koloniale Christendom bevorder het. Die belangrikste punt is egter dat die 1929 weergawe die diverse sub-eenhede van die Xitsonga-bevolking rondom 'n enkele Bybelvertaling verenig het.
Ander Bybelvertalings en hervertalings in die inheemse Suid-Afrikaanse tale uit hierdie tydperk was Sesotho sa Leboa (1904, hersien 1951), Tshivenda (1936) en isiZulu (1959).
Die beleid van afsonderlike ontwikkeling na 1948 het die middele vir die ontwikkeling van inheemse tale voorsien. Alle ontluikende Suid-Afrikaanse tale het aanvanklik op die vertaling van klassieke werke uit die hegemoniese tale gesteun, dit wil sê, die vertaaltrajek impliseer die invloei van wêreldletterkunde om in die behoefte aan handboeke vir skole te voorsien en as 'n middel tot letterkundige produksie om hulle kulturele status te verhoog. Daar is ten minste twee tendense sigbaar. 'n Voorbeeld van die eerste tendens is The Prisoner of Zenda wat in 1894 deur Anthony Hope geskryf is om 'n Westerse konteks voor te stel en toe in 1958 deur G.B. Sinxo in isiXhosa vertaal is. Die vertaler het verkies om aan die hegemoniese bronteksstelsel getrou te bly deur die bronkultuur se koninklike lewenswyse in die gedomineerde doelkultuur oor te dra. In hierdie proses het die brontaalwoorde leenwoorde in die doeltaal geword ten einde die Xhosa-kultuur te verryk (Naudé 2005b: 48-50). Dit is ook in isiZulu vertaal. Voorbeelde van die tweede tendens is die Engelse romans deur H. Rider Haggard, wat 'n posisie in die koloniale regering van Suid-Afrika gehad het, wat in 'n Afrika-konteks geplaas is. Sy roman King Solomon’s Mines (1885) is in isiXhosa, Sesotho en isiZulu vertaal, She (1887) in isiZulu, isiXhosa en Setswana, en Nada the Lily (1949) in isiZulu. Ten einde die boeke vir lesers aanvaarbaar te maak, het die vertalers 'n strategie gevolg waarvolgens hulle die gebruike en kulturele verwantskapsstelsels van die oorheersde kultuur rehabiliteer het deur openlik rassistiese agtergrond te verwyder en sodoende aan die inherente menslikheid van swart identiteit erkenning te gee (Naudé 2005b: 42-45).
Tussen 1933 en 1938 het meer as 6 000 Duitse Jode na Suid-Afrika geïmmigreer (Hull 2009: 140). Hierdie Jode het spoedig Engels bemeester, en van hulle ook Afrikaans; teen 1950 was hulle in die wit bevolking geassimileer (Hull 2009: 135). Dit is teen hierdie agtergrond dat 'n mens die vertaling van belangrike Joodse godsdienstige werk in Afrikaans en Engels moet verstaan. In die 1940’s het Rabbi dr. M. Romm Afrikaanse vertalings van die Talmoed uitgegee. Hy het in 1951 sy vertaling van die Gebedeboek in Afrikaans uitgegee en die boeke aan die stigters van die Afrikaner-nasie opgedra om die 300ste herdenking van Jan van Riebeeck se aankoms in Suid-Afrika in 1652 te herdenk. In 1968 het Roman B. Egert die Paasfees-Haggadah in Afrikaans vertaal.
In 1956 het Imam Mohammed A. Baker van Simonstad, 'n opgeleide onderwyser, aan die vertaling van 30 afdelings van die Heilige Koran in Afrikaans begin werk en dit in 1961 uitgegee.
Vertaling tydens die Afrikaner-tydperk (1961-1994)
Die Republiek van Suid-Afrika het op 31 Mei 1961 tot stand gekom en 'n tydperk van Afrikaner-oorheersing ingelei. Die taalklousule (Artikel 119 van Wet 32 van 1961) van die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika het vir Afrikaans en Engels as amptelike tale op nasionale en streeksvlak voorsiening gemaak, asook vir nege Afrikatale (isiZulu, isiXhosa, Sesotho sa Leboa, Setswana, Sesotho, Xitsonga, Siswati, Tshivenda, isiNdebele) as amptelike tale slegs op streeksvlak, dit wil sê, die sogenaamde Tuislande.
In hierdie tyd is stappe gedoen om 'n einde aan Engels se oorheersing te maak. Die beginsel van gelykheid het gelei tot 'n bedeling waarin elke reg wat aan Engels toegeken is ook vir Afrikaans gegeld het. Alle amptelike dokumente moes in beide tale daargestel word. Ten einde aan hierdie vereiste te voldoen, was dit nodig om Afrikaanse vertaling te bemagtig. Een inisiatief was die stigting van die Suid-Afrikaanse Vertalersinstituut (SAVI) in 1956. Hoewel Afrikaans sedert 1925 amptelike status naas Engels geniet het, was die regeringstrukture en staatsamptenare na dekades van Engelse oorheersing nie Afrikaans magtig nie. 'n Dryfkrag agter die stigting van SAVI was 'n behoefte aan die bevordering van en ondersteuning vir Afrikaans in die staatsdiens en in regeringstrukture (Suid-Afrikaanse Vertalersinstituut 2006). Die fokus was aanvanklik op Afrikaanse vertaling en terminologie en dit is bestuur deur instellings soos die Johannesburgse Munisipaliteit, die Suid-Afrikaanse Spoorweë en die Suid-Afrikaanse Weermag. Die Taaldiensburo van die Departement van Kultuursake was vir die taal- en terminologievereistes van die staatsdiens verantwoordelik en die Vaktaalburo van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns vir die ontwikkeling van tegniese taal in Afrikaans. Afrikaanse vertaling in alle velde (finansieel, tegnies, regs- en veiligheidsdienste, onderwys, landbou, mediese sorg, ens.) is met die daarstel van talle tegniese tweetalige woordeboeke moontlik gemaak, byvoorbeeld die Kriminologie-woordeboek, Chemie-woordeboek, Statistiekwoordeboek, Wynbouwoordeboek, Drukkerswoordeboek, Borduurwoordeboek en Sokkerwoordeboek. In hierdie tydperk het SAVI aan professionalisme, opleiding, die uitbrei van lidmaatskap, publisiteit vir die professie en die verbetering van lede se werksomstandighede gewerk. Vertaaldienste vir vreemde tale en in die geregshowe is ook uitgebrei.
Nog 'n gebeurtenis was dat die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (BSA) in 1965 volledig onafhanklik van die Britse en Buitelandse Bybelgenootskap geword het. Eugene Nida het in hierdie tyd sy linguisties-georiënteerde dinamiese ekwivalensie-teorie vir vertaling ontwikkel. Nida en andere het in 1967 'n seminaar aangebied in Turfloop, Suid-Afrika, wat bygewoon is deur meer as 100 mense van 17 Bybelvertaalprojekte in Suid-Afrika en Namibië, waaroor die BSA verantwoordelik was. 'n Stel beginsels vir vertaling is uitgewerk (Nida & Taber 1974: 181-186). Hierna het Nida Suid-Afrika gereeld besoek en lesings oor Bybelvertaling en semantiek aangebied. Sy lesings in 1977, 1978 en 1979 by SAVI het tot nouer bande tussen die BSA en SAVI gelei. Dit het die navorsing van Johannes Louw oor die semantiek van Nuwe-Testamentiese Grieks beïnvloed en gelei tot sy publikasie in 1976 in Afrikaans en in Engels waarin hy semantiek as 'n nuwe studieveld bespreek (Porter & Ong 2016: 291-292). Met die doel om Bybelvertalers van gereedskap te voorsien, het Louw en Nida ook in 1988 'n Grieks-Engelse leksikon wat op semantiese domeine gebaseer was, uitgegee.
'n Hervertaling van die hele Bybel in Afrikaans het gevolg en Nida se dinamies-ekwivalente beginsels gebruik. Dit is in 1983 as die Nuwe Afrikaanse Vertaling uitgegee in die tydperk wat tot die eerste demokratiese regering in Suid-Afrika gelei het. Die vertalers het strategies besluit om nuwe woordeskat vir versoening in te bring en om plaasvervanging, veralgemening, weglating en parafrase as strategieë in proeftekste te gebruik om die apartheidswoordeskat wat in die kerkbeleid gebruik is om apartheid te regverdig, te minimaliseer. As gevolg van hierdie strategie het die vertaling daarin geslaag om die regverdiging van apartheid in die Afrikaanssprekende kerke af te breek (Naudé 2005a: 172-175).
Die Xitsonga-Bybelvertaling van 1989 het (in teenstelling met die 1929-vertaling) die kulturele identiteit van die Tsongas versterk deur nie net inheemse kulturele terme uit Xitsonga te benut nie, maar ook deur natuurlike Xitsonga-ekwivalente te benut en te munt, en deur moedertaalsprekers van Xitsonga as vertalers te gebruik (Maluleke 2017). Die 1989-weergawe het 'n dinamies-ekwivalente benadering gebruik. Die standaardisering en vereenvoudiging van die ortografiese stelsel waarmee Xitsonga geskryf word, asook die harmoniëring van dialektiese variante het gehelp om Xitsonga as 'n taal te verseker en te verenig, en sodoende die kulturele identiteit te versterk.
Ander Bybelvertalings wat deur die dinamies-ekwivalente metode beïnvloed is, was Sesotho (1989), isiXhosa (1996), Siswati (1996), Tshivenda (1998), Sesotho sa Leboa (2000) en isiNdebele (2012).
'n Nuwe weergawe van die Heilige Koran in Afrikaans met 'n hersiene vertaling is in 2005 deur die Islamitiese Dawah-beweging van Suid-Afrika uitgegee, met herdrukke in 2008 en 2014. Dit is ook in Namibië en Botswana versprei. Die persone wat vir die vertaling verantwoordelik was, was Ebrahim Dada, Imam Abdurrashid Talap, Farhad Khabeer en Shaheed Meniers.
Benewens diensvertaling in die staatsdiens en tegniese en godsdiensvertaling word hierdie tydperk ook gekenmerk deur literêre vertaling van inheemse geskrifte in hegemoniese tale ten einde kulturele uitsluiting te oorkom, veral in die geval van die sensorskap van protesgeskrifte (Naudé 2005b). Protesskrywers is wyd in wêreldtale vertaal ten einde die onreg in die Suid-Afrikaanse samelewing aan internasionale gehore te ontbloot. Hierdie vertaaltrajek het tot die uitvloei van letterkunde gelei wat in die meeste gevalle oorsee uitgegee is, aanvanklik in Engels. Die Engelse vertaling het vervolgens gedien as deel van die brontekste vir vertalings in meestal Europese tale, maar ook in Midde-Oosterse en Asiatiese tale. Die mees produktiewe vertalings was dié van boeke deur Afrikaanse skrywers soos André P Brink, wat in 30 tale vertaal is, Breyten Breytenbach in 15 tale en Elsa Joubert in 13 tale (Botha & Beukes 219: 259-261).
Ten minste drie strategieë is gevolg om 'n Engelse teks benewens 'n inheemse een daar te stel (Naudé 2005b). Een strategie was letterkunde wat gelyktydig in die gedomineerde en die hegemoniese taal geskryf is. 'n Voorbeeld is die vooraanstaande Suid-Afrikaanse romanskrywer, André P Brink, wat sy romans in sowel Afrikaans as Engels geskryf het. Hy het sekere strategieë van die hegemoniese taal (Engels) benut om dit vir 'n globale mark aanvaarbaar te maak, maar die oorspronklike kulturele identiteit in die gedomineerde taal (Afrikaans) behou. 'n Tweede strategie was om in die gedomineerde taal te skryf, gevolg deur 'n vertaling in die hegemoniese taal. Ten einde lesers te trek – nie net in Suid-Afrika nie maar ook internasionaal – het A.C. Jordan en sy vrou Priscilla die klassieke isiXhosa-werk Ingqumbo Yeminyanya (1940) as Wrath of the Ancestors in Engels vertaal. Kulturele aspekte uit die bronteks is in die vertaling behou ten einde 'n duidelike afbakening van die Xhosas as kulturele groep te behou en om die eg Suid-Afrikaanse geur van die roman te weerspieël. 'n Derde strategie was om in die hegemoniese taal te skryf, gevolg deur 'n vertaling in die gedomineerde taal. R.L. Peteni se Engelse roman, Hill of Fools (1976) is deur die skrywer in isiXhosa vertaal of herskryf as KwaZidenge (1980). In die Engelse weergawe is die karakters en hulle verhoudings beskryf, 'n woordelys is voorsien en plekname word verduidelik en vertaal. Dit was egter nie die geval in die isiXhosa-vertaling nie wat beskrywings van bekende kultuuraspekte uitgelaat het.
Die boeke van Engelse protesskrywers, byvoorbeeld J.M. Coetzee en Nadine Gordimer, albei wenners van die Nobelprys vir Letterkunde, is ook wyd vertaal (albei in meer as 30 tale) (Botha 2020: 168-175). As gevolg van sensorskap is vertalings in Afrikaans tot nie-politiese kanoniese Westerse en kinderliteratuur beperk (Botha 2020: 164-168). Voorbeelde is die vertalings in Afrikaans deur André P Brink van Mark Twain se The adventures of Huckleberry Finn en Lewis Carroll se The adventures of Alice in Wonderland. Wenners van die vertaalprys van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns sluit in Afrikaanse vertalings van werke deur Euripides, Sophocles, Aristoteles, Dante, Chaucer, Shakespeare, Goethe en Moliere. Die strategie van literêre vernuwing deur vertaling in Afrikaans (40% van die literêre korpus tussen 1958 en 1965 was Afrikaanse vertalings) was deel van 'n poging deur die vertalers van die protesbeweging om Afrikaanse letterkunde van isolasie en self-obsessie te bevry (Botha 2020: 165).
Vertaling tydens die Demokratiese tydperk (1994-)
Suid-Afrika het in 1994 'n grondwetlike demokrasie geword na 'n lang stryd teen die politieke bestel van wit oorheersing. Die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika (Wet 108 van 1996) erken 11 amptelike tale en verwag dat die regering positiewe maatreëls moet instel om die status van hierdie tale te verhoog en hulle gebruik te bevorder. Dit is 'n voortgaande en ontluikende proses as in ag geneem word dat Engels steeds die oorheersende taal is en vertaling onderbenut word (Botha & Beukes 2019: 261-265). Suid-Afrikaanse Gebaretaal (met 500 000 sprekers) het op 19 Julie 2023 die twaalfde amptelike taal geword. Die nasionale en provinsiale regerings mag enige van die amptelike tale gebruik, maar moet ten minste twee gebruik. Hansard bevat alle toesprake in die taal waarin hulle gelewer is, gevolg deur 'n Engelse vertaling. Ten einde taalregte te beskerm en taalontwikkeling te bemiddel, is die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad (PANSAT) (Wet 59 van 1995) gestig. Dit het nasionale taalliggame vir elk van die elf amptelike tale geskep sowel as vir Khoi, Nama, San en Suid-Afrikaanse Gebaretaal. In 2000 en 2001 het PANSAT ook Nasionale Leksikografie-eenhede vir elk van die amptelike tale by tersiêre instellings regoor Suid-Afrika gevestig. Hierdie scenario het SAVI gedwing om hulle praktyke aan te pas ten einde vertaaldienste in al die amptelike tale van Suid-Afrika te verteenwoordig en om aanvaarding van internasionale organisasies soos FIT te verkry. SAVI het ook 'n tydskrif, Muratho, van stapel gestuur wat artikels in alle Suid-Afrikaanse taal aanvaar, met dien verstande dat hulle van 'n Engelse opsomming vergesel word.
![]() |
|
Muratho se voorblad [Source] |
Vertaalopleiding aan tersiêre instellings is gestimuleer; in die vroeë 2000’s is kwalifikasies op voor- en nagraadse vlak in vertaling by 13 tersiêre instellings aangebied. Ten einde opleiding te standaardiseer en gehalte te beheer het die Suid-Afrikaanse Kwalifikasie-owerheid se Liggaam vir die Generering van Standaarde in Vertaling, Taalversorging en Tolking tussen 2000 en 2004 gefunksioneer.
Die verandering in vertaalomstandighede het gevra om 'n verandering in vertaleropleiding om voornemende vertalers op te lei om toeganklike vertalings daar te stel wat nie op rigiede vertaalteorieë gegrond was nie. Die funksionalistiese model was 'n geskikte benadering, in die besonder die bydrae van Christiane Nord wat Suid-Afrika sedert 2001 op 'n gereelde grondslag besoek het en wat ook 'n buitengewone professor aan die Universiteit van die Vrystaat is (Nord 2018: 124-125). In die reël stel hierdie benadering dat die bedoelde funksie (skopos) van die doelteks, en nie die funksie van die bronteks nie – soos in die vertaalopdrag vervat – die vertaalmetodes en -strategieë moet bepaal. ’n Ander benadering wat vertaalopleiding in Suid-Afrika beïnvloed het, is deskriptiewe vertaalkunde, wat op die werk van onder andere Theo Hermans en Gideon Toury gegrond is. Met behulp van hierdie benadering het nagraadse studente aan verskeie instellings die vorming van kulturele kennis deur vertaling bestudeer (Naudé 2005b: 35-38). 'n Spesiale uitgawe van die Journal for New Generation Science is in 2008 uitgegee oor sosio-konstruktiwistiese taalpraktykopleiding in die Suid-Afrikaanse konteks.
In Augustus 2001 is 'n Simposium oor Bybelvertaling gereël om BSSA-personeel en akademici in te lig oor die ontwikkelings in die veld van vertaalteorie as 'n grondslag vir die volgende vertaling van die Bybel in byderwetse Afrikaans wat deur sommige kerke versoek is (Naudé & Van der Merwe 2002).
Mona Baker het in 2001 'n werkswinkel oor korpusgebaseerde vertaalkunde in Pretoria aangebied. Dit is in Julie 2003 opgevolg met 'n internasionale kongres oor korpusvertaalkunde in Pretoria, aangebied deur die Universiteit van Suid-Afrika en die Universiteit van Manchester. Referate hieruit is in 2004 in Language Matters uitgegee.
Die tweede kongres van die Internasionale Vereniging vir Vertaal- en Interkulturele Studie is in 2006 in Kaapstad gehou. Die referate van die paneel oor die Bybel en vertalings daarvan in die konteks van koloniale ontmoetings met die inheemse is in 2009 as monografie in Acta Theologica Supplementum uitgegee. Die volume bevat ook referate van 'n kongres in 2007 wat die 150ste bestaansjaar van die Bybel in Setswana gevier het, asook referate van 'n akademiese dag op 27 Augustus 2008 om die 75ste bestaansjaar van die Bybel in Afrikaans te vier, beide in Bloemfontein. Sedert 2009 is opleiding vir nagraadse studente gereeld deur die Lenteskool vir Vertaalkunde in Afrika aangebied. In 2012 is 'n mede-redakteur spesifiek vir taalpraktyk (vertaalkunde) in die ISI-gelyste vaktydskrif Southern African Linguistics and Applied Language Studies toegewys, naas die twee redakteurs vir linguistiek en toegepaste linguistiek. In 2016 is die Vereniging vir Vertaalkunde in Afrika gestig en in 2018 is 'n tydskrif vir die vereniging, Journal for Translation Studies in Africa, van stapel gestuur. Die eerste kongres van die vereniging was in Mei 2018 in Stellenbosch en die eerste uitgawe van die vaktydskrif is in 2020 uitgegee 'n Huidige ontwikkeling in vertaalkunde wat sy oorsprong op Suid-Afrikaanse bodem het, behels die herkonseptualisering van vertaling binne die raamwerk van kompleksiteitsdenke deur Kobus Marais, 'n vertaalkundige aan die Universiteit van die Vrystaat. Marais redeneer dat dit nuttiger mag wees om vertaling as 'n komplekse en dus ontluikende verskynsel te beskou eerder as om die veld in terme van opeenvolgende ‘wendings’ te sien. Met die opkoms van semiotiese benaderings binne kompleksiteitsdenke in vertaling sal vertaling reduksionisme moet vermy deur die dualisme te omseil waar óf op die bron- (aanvanklike) óf op die doel(daaropvolgende)-kultuur gefokus word (Marais 2014, 2019, 2023).
![]() |
| Marais, Trajectories of Translation: The Thermodynamics of Semiosis (2023) [Source] |
Gemotiveer deur die tydsgees is vereenvoudigde Bybel-weergawes vir bepaalde doelwitte daargestel. Ná 'n versoek deur kerke om aan dowe mense se spesiale behoeftes aan Bybels te voorsien, het die Bybelgenootskap van Suid-Afrika 'n spesiale Afrikaanse vertaling Die Bybel vir Dowes daargestel (2007). Dit het ten doel om aan die unieke behoeftes van dowe mense, diegene wat doof gebore is of diegene wat Suid-Afrikaanse Gebaretaal gebruik, te voorsien. In reaksie op 'n behoefte van die publiek en kerke vir 'n vertaling met 'n vereenvoudigde woordeskat en sinstruktuur is hierdie vertaling ook in 2008 as Die Bybel vir Almal uitgegee. In 2019 is 'n Engelse weergawe van Die Bybel vir Dowes ook deur die BSA uitgegee.
Ander Bybelvertalings en hervertalings van die hele Bybel in die inheemse Suid-Afrikaanse taal is voltooi, naamlik isiXhosa (1996), Siswati (1996), Sesotho sa Leboa (2000), Tshivenda (1998), isiNdebele (212) en isiZulu (2020).
Die BSA het ook in 2020 'n volledige Bybelvertaling in Afrikaans uitgegee. Meer as 142 medewerkers van 26 Afrikaanse kerkgenootskappe het tot die vertaalproses bygedra. Dit lees asof die Bybelskrywers vlot, idiomatiese Afrikaans praat, maar stilistiese kenmerke van die brontaal sowel as belangrike kulturele terme word in die vertaling behou, waar moontlik, en met paratekste (of metatekste) soos 'n inleiding, voetnote en 'n woordelys verduidelik. Deur paratekste te gebruik om die andersheid van die brontekskultuur vir lesers toeganklik te maak, vermy die vertaling reduksionisme tot óf vorm óf betekenis. 'n Spesiale uitgawe, Die Hoofletteruitgawe, is uitgegee met hoofletters vir die verwysing na persone in die Ou Testament wat as verwysend na Christus interpreteer kan word..
Daar is ook vertalings van die Heilige Koran in ten minste isiXhosa (I’Kur’an Ezukileyo 2012), isiZulu (I-Khur’aani Engcwele 2015) en Sesotho (Phetolele ea Koran Ka Sesotho 2016).
Met die verligting van sosiale druk sedert 1994 is die konteks van literêre vertaling minder gepolariseerd, en die keuse van tekste om te vertaal, hang af van hulle vermoë om streeksgrense te oorskry, dit wil sê, om 'n universele appel uit te oefen en interkultureel verbruikbaar te wees. Die gewildste Engelstalige skrywers sedert 1994 is Wilbur Smith, J.M. Coetzee, Nadine Gordimer en Laurens van der Post (van die ou generasie) en Mike Nicol en Niki Daly (van die nuwe geslag). Vertalings is meestal na Frans, Duits, Nederlands, Portugees, Grieks, Pools, Lets, Fins, Serwies, Russies, Noorweegs, Deens, Sweeds en Japannees (Botha 2020: 192-194).
'n Groot hoeveelheid literêre vertaling (fiksie sowel as nie-fiksie, romantiese romans, selfhelpgidse, populêre sielkunde en kinder- en jeugliteratuur) vind tussen veral Afrikaans en Nederlands plaas, as gevolg van die historiese bande en ooreenkomste tussen die tale. Die mees vertaalde Nederlandse skrywers in Afrikaans is Herman de Coninck, Harry Mulisch, Karel Glastra van Loon, Kerrit Komrij en Adriaan van Dis. Afrikaanse skrywers soos Etienne van Heerden, Marlene van Niekerk, Riana Scheepers, Dan Sleigh, Marita van der Vywer en Ingrid Winterbach geniet 'n gunstige ontvangs in Nederlands en Vlaams. Afrikaanse digkuns wat in Nederlands vertaal is, word dikwels in tweetalige weergawes uitgegee, dit wil sê, die Afrikaans naas die Nederlands (Botha 2020:194-196). André P Brink en Breyten Breytenbach is die mees vertaalde skrywers sedert 1994, maar skrywers met 'n lang skrywersloopbaan soos Etienne van Heerden, Karel Schoeman en Antjie Krog is ook internasionaal wyd vertaal. Nuwe-generasie skrywers soos Deon Meyer en Marita van der Vywer se vertaalde werke is gewild (Botha 2020:196-197). Die Afrikaanse vertaling van Nelson Mandela se Long Walk to Freedom, 'n nuwe Afrikaanse vertaling van Thomas Mofolo se Chaka (2017) en Afrikaanse vertalings van inheemse gedigte is gedoen as deel van projekte wat Antjie Krog onderneem het. Dit bied voorbeelde van die vertaling van plaaslike swart skrywers of Afrika-letterkunde(Botha (2020: 198-201). Daar is egter oor die algemeen baie min vertalings van Afrika-letterkunde(Botha 2020: 202-204).
'n Behoefte aan vertalings in 'n veelheid tale wat nie die ooreenstemmende terminologie en uitdrukkingswyses het nie, het in die velde van administrasie, maatskaplike sekerheid, onderwys, finansies, die reg en medies ontstaan. In die onderwys het 'n behoefte ontstaan aan nuwe konsepte in die onderrigmateriaal vir kinders tot op twaalfjarige ouderdom. Dit was in die velde van Wiskunde, Natuurwetenskap en Tegnologie asook mens-, sosiale, ekonomiese en bestuurswetenskappe. Die Terminologiekoördineringsafdeling van die Nasionale Taaldiens het in 2003 vir Wiskunde 'n woordelys van 'n duisend terme in al die amptelike tale saamgestel, die eerste van sy soort (Multilincual Mathematics Dictionary for Grade R to 6). Die spanlede van die onderskeie groepe wat meegedoen het om term-ekwivalente te verskaf, was almal moedertaalsprekers van die bepaalde doeltale.
Aangesien sommige tersiêre instellings om praktiese redes van tweetaligheid na enkeltaligheid oorgeskakel het, is die populêre mening dat Afrikaans ten gunste van Engels, wat oorheers, 'n afname in funksionele gebruik beleef (Botha & Beukes 2019: 261–262). By tersiêre instellings is veeltalige ondersteuningstelsels in plek om studente wie se huistaal nie Engels is nie, te ondersteun. Vertaling van en na inheemse tale speel 'n sleutelrol in hierdie poging.
As gevolg van die feit dat Engels 'n globale taal is, oorheers dit die ander Suid-Afrikaanse tale, wat randposisies beklee. Vertaling maak egter nie die belang van toegang tot Engels as 'n globale en ekonomiese taal ongeldig nie. Vertaling beperk eerder die oorheersing van Engels sodat inheemse tale nie afgewater of verarm word nie.
Die geskiedenis van vertaling in Suid-Afrika bied 'n rykdom moontlike navorsingsmoontlikhede. Een van die belangrikste behoeftes is aan 'n omvattende, geïntegreerde geskiedenis van vertaling in Suid-Afrika wat alle soorte vertaling – letterkundig, informeel, godsdienstig – in ag neem, eerder as die reduksionistiese fokus op literêre vertaling. Ten einde hierdie doel te bereik, moet baie meer werk oor die sosio-kulturele gevolge van bepaalde vertalings deur die geskiedenis gedoen word: Hoe het hulle die samelewing beïnvloed en kultuur en kulturele identiteit gevorm? Wat is die gevolge van vertaalpogings op aanverwante aspekte soos taaldokumentasie, taalontwikkeling, taalstandaardisasie, taalvariëteite, veeltaligheid, transtaling en geletterdheid?










